Ek stap vanaand n paar keer deur die lang gang van my huis en loer by elke kamer in. Baba slaap, Ben slaap en Sarel is ook al in die bed en dis maar nog net 21h00. Ek is maar n naguil, skrop tot die vroee oggend ure rond.
My gedagtes borrel oor van idees vir my nuut gevonde 'blog'. Ek wou nog altyd my eie 'blog' he, en nou kry ek uiteindelik die geleentheid om voor die rekenaar te kom sit en die hele gedoente uit te syfer.
Laat ons by die begin begin, en julle eers vertel van my gesin. My profesionele lewe is vir genots doeleindes nie in hierdie blog ter sprake nie. Hier blog ek net oor my en my gesin en ons doen en late. Ek hoop ek sal nog mammas vind wat kan assosieer met die de Langes.
Sonja de Lange, 31 jaar oud en al 6 jaar getroud met Sarel de Lange, ook 31. Ons het n pragtige, woelige en slim seun, Ben, hy word die jaar (2011) n volle 3 jaar oud. Die Here was vir ons goed en het ons nog n bonneltjie goud gegee sy naam is Cilliers, hy is tans 8 maande oud en bring vir ons van voor af hope vreugde. Nou ja, in kort is dit ons... o nee, dit is nie net so kort nie....daar is nog. Ons het ook n hiperaktiewe hond Simba, en n kat, Sokkies, met n identiteits probleem. En dan is daar die ligpunt van ons huishouding, ons inslaap bediende, Margerieta, of soos Ben haar gedoop het "Rieta".
DIT is dan nou die de Lange huishouding. Ek gaan julle op hoogte hou van ons doen en late en ek glo ons sal baie vermaak en genot kan verskaf. Meeste van die mense wat ek ken is tans swanger of het klein kinders en hulle doen en late sal ek ook met julle deel.
Welkom by my "blog", hier praat ek afrikaans en sal die engelse woorde so tussen in gooi as ek nie n beter afrikaanse woord kan kry nie, soos bv 'blog'... kom lag saam met my en gesels saam met my.