Ek wou nog altyd skryf oor die PIENK stoel, hier's hy nou:
My skoonouers is altwee in 2010 oorlede, 6 maande uit mekaar. Eers Pa en 6 maande later Ma. Die kinders het 'n naweek daarvan gemaak om die huis te gaan op pak. Dit was 'n eerste vir my, 'n eerste om 'n ouerhuis op te pak. Vir my was dit ook 'n baie spesiale naweek saam met my skoonfamilie.
Om 'n ouerhuis op te pak is nie grappies nie, alhoewel daar baie grappies gemaak word en oor mooi herhinneringe gesels en gelag word.
Ek was nog swanger met Cilliers. So ek het voordeel daaruit getrek in die sin dat ek geen harde werkies gedoen het nie. :)
Ons het elke kas uitgepak, uitgedeel en alles was bespreek, van ouma se dinee rokke tot die ou souspot onder die zink. Soos die naweek aanloop raak elkeen se hopie 'goed' net groter. Toe ons almal uiteindelik tevrede was met wat ons nou as sentimentele erfstukke beskou, word dit gelaai en stap ons vir oulaas deur die huis. Daar staan nog 'n paar los goed en elkeen gryp nog 'n ding. My man se oog val op die PIENK wieg stoel in die hoek van die sitkamer. Ek probeer dit ignoreer, maar hy is vasbeslote, 'ek soek die PIENK stoel'. Dit help tog nie ek kyk ander pad nie, hy heg waarde aan die stoel, so laat ons dit maar laai.
By die huis is daar toe sowaar 'n gaatjie waar die PIENK stoel perfek pas, nou nie dat enige van my ander goed PIENK is nie, maar hy't sy plek gekry. Ek het ook sommer gaan sit op die PIENK stoel om my sware swanger lyf 'n rus kans te gee. Daar voel ek toe soos gouelokkies...."aaahhh, hierdie stoel is net reg!" Soos die dae aanstap na die einde van my swangerskap, was dit waar ek gaan sit het as ek moeg was, baba was mal oor die vorentoe en agtertoe gewieg van die stoel, die geskwiek wat daarmee saam kom was seker ook kalmerend vir hom. (hiehie:-)
Na sy geboorte het dit die borsvoeding stoel geword. Kyk, as ek in die PIENK stoel gaan sit, dan kry jy my nie weer daar op nie. Ek en Cilliers het dan gesit tot hy klaar gevoed het en aan die slaap geword het.
My ou babatjie het nou die dag 1 geword, en sowaar is dit nog steeds die plek waar hy die maklikste aan die slaap raak. In my arms op die PIENK stoel.
Wat 'n pragstuk is dit nie nou in my huis nie. Ouma en Oupa se PIENK stoel.