Wednesday, 13 June 2012

My man stuur nogal ewe vanoggend vir my hierdie mooi stukkie oor ouerskap. Ek deel dit graag op my blog.

IS DAAR EEN LAT VIR AL MY KINDERS?

Kinders het mos reeds in die baarmoeder hulle eie maniertjies. Meisiekind begin wikkel as die musiek hard is en Boeta rondomtalie as Ma hartseer is.

2012-06-12Anjenita Hugo


Omdat elke kind uniek is, spreek dit vanself dat ons nie ons kinders met ’n benadering van “een grootte pas almal” kan dissiplineer nie.

Kom ons gebruik rugby om hierdie beginsel te verduidelik. Jy as ouer is die afrigter en jou kind is die speler. Jy rig jou kinders af om die spel (van die lewe) te leer speel.

Ons begin by jou, die ouer. Watter tipe afrigter is jy? Dwing jy jou gesag ten alle koste af, of laat jy maar alles toe, of probeer jy om jou kind by die dissiplinêre proses te betrek? Is jy ferm, sag, spontaan of rigied? Een styl is soms beter in een situasie as ’n ander. Ouers kan mekaar aanvul na gelang van wat die situasie op daardie oomblik verlang.

Die spel self het ’n paar reëls. Jy kry geel kaarte en rooi kaarte. Jy mag nie gevaarlik duik nie en ook nie vorentoe aangee nie. Jy moet in ’n span saamspeel en ander in ag neem. So kan ons ooreenkom dat daar ’n paar basiese reëls is waaroor daar nie onderhandel kan word nie.

Maar elke speler het ’n unieke styl en sterk punte. Party is vurig en ander is vredemakers. Sommige is leiers en ander is ondersteuners. Party is sagter en ander word nie maklik afgeskrik deur ’n streng benadering nie. So het sommige kinders net “die kyk” nodig en ander ’n ferm versoek. Soms is meer verduideliking nodig en ander kere moet jy as ouer dadelik optree. So, as jou kinders se afrigter moet jy hulle leer ken en leer verstaan wat vir elkeen werk.

Hoe leer jy jou kind om die spel te speel? Daarvoor het jy ’n voorraad tegnieke nodig. Gebruik dit dan na gelang van jou en jou kind se styl. Partykeer werk iets vir twee weke en dan moet jy dit weer aanpas.

Liefde is natuurlik die fondament. Daarmee saam kom realistiese en opregte pryswoorde en beloning vir wat jou kind doen en hoe hy of sy optree. Maar dit beteken ook jy moet ferm wees, en jou stem, lyftaal, gesigsuitdrukking en woorde moet dit wys. Jou selfvertroue gee vir jou kind sekuriteit.

Jou optrede moet voorspelbaar wees: “Jy gaan ’n rooi kaart kry as jy aanhou!” En natuurlik ook konsekwent: “Vandag, môre en volgende jaar kan jy dieselfde reaksie van my verwag, Boeta!”

Jy moet ook duidelike grense stel: “Hoog vat is hoog vat en klaar!” En die gevolge uitspel as die grens oorskry word: “As jy kies om oor die lyn te trap, weet jy wat gaan volg.”

En soos altyd is daar keuses: “Noudat jy weet hoe die spel werk, het jy nog steeds ’n keuse hoe jy dit wil speel. Jy het ’n sê oor die uitkoms.”

Ouers kan gerus maar vir Boeta sê: Jy is anders as jou sussie. Daar is net een van jou en ek sal jou op jou eie, spesiale manier hanteer.

En laastens: Geen kleuter, kind of tiener is bestand teen die invloed van aandag, waardering en liefde nie.

Tuesday, 15 May 2012

Voël Vry

My seuntjies raak heeltemal buite beheer na bad tyd! Hulle hardloop met die handdoeke om die lyfie gedraai na die kamer en reg voor die bed word die handdoek een kant toe gegooi en hulle klim met 'n uitbundige lag op die bed en begin spring....en spring en spring... jy kry hulle nie bedaar om die nagklere aan te trek nie.

Soms is dit irriterend, want ek wil hulle nou net aantrek en klaar kry. Maar die springery maak 'n opgewondenheid in hulle wakker wat jy net hierdie tyd van die aand sien...

Soos met baie ander uitdagings het ek weereens gaan dink daaroor en myself in hulle lyfies probeer plaas...

Good Golly MIss MOLLy!! Dit moet 'n vreeslike heerlike VRYE gevoel wees - om kaalbas op die bed te spring...verbeel jou jy stap uit die stort, gooi jou handdoek opgewonde eenkant toe, klim op die bed en spring op die bed ...okay, vergeet nou van die tiete wat jou disnis gaan slaan... maar die springery, kaalbas op die bed!! Sonder dat jou man, (of behoede my enige iemand anders) op jou inloop! Net jy en jou kaalbas op die bed, en soos jy spring lag jy uitbundig en geniet net die vrye gevoel!! mmm... wat van die trampoline... hiehie

Saturday, 7 April 2012

Breastfeeding made me run

Die titel klink net beter in engels :)


Met my eerste baba wou ek regtig weg hadloop as daar van borsvoeding gepraat word. Die seer nipples en die sokkerballe vir boobs was vir my net een te veel. En toe kom die mastitis soos ‘n  dief in die nag en die trane rol oor my wange wanneer ek sit om vir baba te voed. Ek raak stil en bid en my antwoord kom toe duidelik na my in die vorm van ‘n blik!! Jy moet tog die beste moeder vir jou kleine baba wees, en as dit beteken jy moet blikmelk gee, dan is dit so. Op daardie stadium het ek myself voorgeneem – NOOIT in my lewe weer nie. Die blik werk soos ‘n bom, so waarom deur al hierdie pyn gaan. Ek geniet uiteindelik my baba en ek hoef nie meer méér aandag aan my boobs as my baba te gee nie.

Ek word toe geseën met nog ‘n swangerskap, en die instinkte skop onmiddelik weer in en die borsvoeding feetjie praat hard met my. “borsvoeding is deel van die natuur” “moeder, gun jou baba die geleentheid” “dis ‘n kop besluit”! Dis ‘n KOP BESLUIT? Ek kan nie onthou wie dit vir my gesê het nie, maar daardie woorde het vasgesteek! Ek neem toe die besluit: “Ek gaan hierdie baba borsvoed”. Ek het met ander moeders gepraat wat suksesvol geborsvoed het, en ek het gekyk hoe ander moeders dit doen en ek het myself voorgestel hoe ek dit doen!Die dag na die geboorte het ek hom aan die bors gesit, hy het gedrink soos ‘n lammetjie. Ek het net geweet hierdie keer gaan dit werk. EN DIT HET!! Vir 14 maande het ek eksklusief geborsvoed…geen blikke dié keer nie!!  

Ek het vir myself bewys EK KAN! Met ‘n KOP BESLUIT kon ek dit reg kry..... Nou werk my kop oortyd…. As ek dit kon regkry, kan ek seker enige iets regkry…

Ek wou graag weer fiks word en gereeld oefen, maar dit was 'n droom wat baie vaag en buite my bereik was. Ek het nog altyd na die Two Oceans op die TV gekyk en dan was daar ‘n kort-vinnige-splitsekonde van ‘n oomblik wat ek gedink het “EK GAAN DIT NOG DOEN!”  Op skool was ek fiks en het ek aan sport deelgeneem. Nou het daar al 14 jaar verbygegaan waar die gedagte van oefening vir my ‘n grooot, grooooter, masiewe, inspanning, grap en onmoonlikheid was.  Gym fooie was elke keer vir die voëls, want ek sluit aan, en na 3 maande is die rusbank ‘n groter liefde as die moeite gym toe.  

Die Here stuur toe weer vir my ‘n antwoord in die vorm van ‘n vriendin wat my oortuig om saam met haar BOOTCAMP te doen. Gedurende die 4 weke by bootcamp hoor ek weer die stem “KOP BESLUIT” en ek besef EK KAN OEFEN…dis glad nie so erg nie en ek is glad nie so oud soos wat ek myself uitmaak nie. hiehieJ.. En net daar besluit ek, ek wil begin hardloop. Sommer net vir oefening en dalk later wedlope en dalk, net dalk eendag die Two Oceans… 

KOP BESLUIT!  

Daar hang reeds 2 x 5km wedloop medaljes in my kantoor. 15 April hardloop ek my eerste 10km en die Two Oceans gedagte is glad nie meer net 'n splitsekonde van 'n oomblik nie.



Wednesday, 1 February 2012

Die begin van die einde....

"Jammer ek het so lanklaas 'n blog geplaas. Hier is een wat ek al meer as 'n maand terug geskryf het en vergeet het om te plaas":


Ek het laas week vir my nuwe bra’s gaan koop, nie borsvoed bra’s nie, net mooi vroulike bra’s met kant. Die nuwe bra hou alles so mooi bymekaar ek skrik skoon toe ek die nuwe boesem in die spieël sien. En net daar tref dit my….

 Is dit die begin van die einde?

Beteken dit nou ek is besig om gereed te maak om op te hou borsvoed? Ek het nie regtig meer die borsvoed bra nodig nie, want ek hoef nie elke 4 ure my boobs uit te haal nie. Hy drink tog eintlik net deur die nag. Ook nie eens regtig meer nie, hy begin nou eweskielik na ‘n jaar deur slaap.


Soggens staan hy vrolik op, saans gaan slaap hy maklik. Hy huil nie meer vir die tietie nie. Hy vra dus nie meer nie, maar ek bied aan en hy aanvaar. Ek besef nou ek is in beheer, as ek nie meer aanbied nie kan ons nou stop met borsvoeding.

Dit is wat ek al op 4 maande wou doen. Ek het op daardie stadium my kop reg gekry en nou? Nou klou ek so aan daardie paar minute se kosbare koestering dat ek nie kan afskeid neem nie. 

‘n Sagte stem sê vir my “dit is jou kans om hom te speen, moenie weer aanbied nie”. Maar elke oggend en elke aand wil ek nog net vir ‘n laaste keer borsvoed. Net vir ‘n laaste keer daardie tevrede sluk hoor en daardie gesiggie teen my vel voel. As ek hom nou speen is dit vir ewig verby.

Ek het altyd gedink ek is so ‘n tawwe mamma, sulke kleinighede sal my nie onderkry nie. Maar hierdie is weer een van daardie mamma oomblike wat jy nie kan beskryf nie, wat niemand sal verstaan wat nog nie self daar gestaan het nie.

Nooit het ek ook gedink ek sal die volgende verkondig nie: Borsvoeding is die kosbaarste daad wat jy ooit kan doen. Daar is werklik ‘n WOW factor omtrent borsvoeding. Dis nie iets wat jy mis as jy nie geborsvoed het nie. Dis net iets wat daar is as jy wel so bevoorreg is om jou baba te kan borsvoed.

My raad aan enige mamma is om te probeer en as dit nie met jou 1ste kind werk nie, gun jou 2de kind daardie kans en probeer weer. Vir my het dit gewerk met die 2de probeerslag!