Ek wou nog altyd skryf oor die PIENK stoel, hier's hy nou:
My skoonouers is altwee in 2010 oorlede, 6 maande uit mekaar. Eers Pa en 6 maande later Ma. Die kinders het 'n naweek daarvan gemaak om die huis te gaan op pak. Dit was 'n eerste vir my, 'n eerste om 'n ouerhuis op te pak. Vir my was dit ook 'n baie spesiale naweek saam met my skoonfamilie.
Om 'n ouerhuis op te pak is nie grappies nie, alhoewel daar baie grappies gemaak word en oor mooi herhinneringe gesels en gelag word.
Ek was nog swanger met Cilliers. So ek het voordeel daaruit getrek in die sin dat ek geen harde werkies gedoen het nie. :)
Ons het elke kas uitgepak, uitgedeel en alles was bespreek, van ouma se dinee rokke tot die ou souspot onder die zink. Soos die naweek aanloop raak elkeen se hopie 'goed' net groter. Toe ons almal uiteindelik tevrede was met wat ons nou as sentimentele erfstukke beskou, word dit gelaai en stap ons vir oulaas deur die huis. Daar staan nog 'n paar los goed en elkeen gryp nog 'n ding. My man se oog val op die PIENK wieg stoel in die hoek van die sitkamer. Ek probeer dit ignoreer, maar hy is vasbeslote, 'ek soek die PIENK stoel'. Dit help tog nie ek kyk ander pad nie, hy heg waarde aan die stoel, so laat ons dit maar laai.
By die huis is daar toe sowaar 'n gaatjie waar die PIENK stoel perfek pas, nou nie dat enige van my ander goed PIENK is nie, maar hy't sy plek gekry. Ek het ook sommer gaan sit op die PIENK stoel om my sware swanger lyf 'n rus kans te gee. Daar voel ek toe soos gouelokkies...."aaahhh, hierdie stoel is net reg!" Soos die dae aanstap na die einde van my swangerskap, was dit waar ek gaan sit het as ek moeg was, baba was mal oor die vorentoe en agtertoe gewieg van die stoel, die geskwiek wat daarmee saam kom was seker ook kalmerend vir hom. (hiehie:-)
Na sy geboorte het dit die borsvoeding stoel geword. Kyk, as ek in die PIENK stoel gaan sit, dan kry jy my nie weer daar op nie. Ek en Cilliers het dan gesit tot hy klaar gevoed het en aan die slaap geword het.
My ou babatjie het nou die dag 1 geword, en sowaar is dit nog steeds die plek waar hy die maklikste aan die slaap raak. In my arms op die PIENK stoel.
Wat 'n pragstuk is dit nie nou in my huis nie. Ouma en Oupa se PIENK stoel.
Wednesday, 26 October 2011
Thursday, 22 September 2011
GeNoTVoLLe LeWE!!
Ek en Sarel is in 2005
getroud en in dieselfde jaar het ons ons heel eerste huisie gekoop. 'n Lieflike
"lock-up and go". Ons is bevoorreg om nog eienaars van daardie einste
huisie te wees. Ons was in die week by die huisie om vir potensiale huurders
die huis te wys.
Ons besef toe weereens
hoeveel ons lewe verander het. Daar stap 'n jong paartjie in, baie verlief en
die verloofring blink nog. Wat vir hulle belangrik is, is die braai area en
hoeveel vriende hulle daar kan
onthaal en of al hul GOED gaan pas... As ons vandag na 'n huis moet gaan kyk, soek ons eerstens genoeg
kamers vir al die kinders en dan genoeg speelplek vir die kinders.
Ons ry daar weg, ek en Sarel
kyk vir mekaar, ek sê vir hom "daai paartjie, dis ons!". Vir 'n
oomblik het ons terug beweeg in tyd. Ons onthou hoe ons in 'n klein 2
slaapkamer huisie, met 'n braaikamer groter as die hoofslaapkamer, kon
funktioneer, hoe ons saans by die huis kom en nie lus is vir kos maak nie, en
op die ingewing van die oomblik besluit om te gaan uiteet en dan ook binne 15 minute in die kar spring en by die garage uit ry. Die toiletpapier was altyd op die rol en
toiletborsel nog agter die toilet, my spieelkas was nog vol botteltjies
creampies en parfuumpies. Als was op sy plek en niks het onnodig rondgelê nie.
Dit was net ons en ons GoEd.
Vandag vat dit ons 2ure voor
ons enigsins die huis kan
verlaat en "uit eet" bestaan nie meer in ons woordeskat nie! Die
toiletrol is meestal die hele badkamer of toilet vol agv 'n mannetjie wat genot
daaruit put om dit te staan en afrol. (Dis eintlik goeie stimulering vir die
kleingoed, sê die ‘free spirit’ moeder in my). Die toiletborsel word verwyder
oordat die kabouters daarmee speel (dis hiper onhigihenies, sê die ‘over
sensitive dad’ langs my). My spieelkas het geen meer botteltjies wat oopgemaak,
gesmeer of uitgegooi kan
word nie en om die waarheid te sê, NiKs is op sy plek nie en GoEd is nie meer
vir ons belangrik nie. Al wat nou saak maak is die welstand van ons kinders.
Die lewe het soveel verander,
dit het GROTER geword,
dit het voLLer geword.
GeNotVoLLer!
Daai "honeymoon
days" was lekker, maar dit was maar net die begin van die pret. Ons lewe
is nou verryk met twee pragtige seuns, wat elke dag vir ons nuwe dinge leer. Aardse
goed bly aardse goed, dit kan
ook maar net daar lê, daar waar swaartekrag dit laat val. Liefde en tyd saam
met mekaar beteken nou vir ons die wêreld.
Friday, 9 September 2011
Ek is tevrede.
Ek staan vanoggend in die stort en dink aan al my swanger vriendinne, en net daar vang ek myself ‘n skiet gebedjie gooi: “Dankie liewe Heer dat ek nie nou met swangerskap, naerheid en mislikheid hoef te sukkel nie”, of in kort : “Dankie Liewe Heer dat ek nie swanger is nie!”
Ek het ‘n innerlike opgewondenheid vir al my vriendinne en suster se babas wat oor ‘n paar maande ons lewe gaan verryk. Maar ek is heeltemal genees van die verlange na ‘n boep. Is ek geskok of is ek tevrede met die nuut gevonde gevoel?
Ek is beslis tevrede. Na my eerste baba wou ek net weer swanger word en nog ‘n babatjie vas hou. Na my tweede, is ek tevrede.
Kom ons lig die glase en drink ‘n heildronk op al die swanger vroue! (weereens dood tevrede dat ek wel ‘n sluk van my wyntjie kan vat) ;-)
Wednesday, 31 August 2011
Rykdom
Ons oudste is môre 3 jaar oud. Ek onthou nog so duidelik hoe ek die kraampyne begin kry het en die tyd op die wekker dop gehou het en my 'Sr Lillian' boek nader gegryp het om die gedeelte 'Is ek in kraam?" te lees. Dit was en is nog steeds vir my so mooi dat hy self besluit het om op Lentedag sy verskyning te maak.
Min het ons toe geweet hoe ons lewe sou verander! Vanoggend het juis weer met 'n "BANG" begin, soos die ingelsman sou sê. Hier daag 3 painters op, 3 manne om die braaikamer se vloer te gooi en 'n tuinjong. Rieta is op haar pos van vanaf vroeg oggend.
Ek en Cilliers is vroeg op, want Dinsdae is ons mamma en baba klassie. Ben sukkel natuulik weer om wakker te word, hy wil nie aantrek nie en ek oorweeg dit sterk om hom kaal-stert skool toe te stuur. Hy wil anyway net heeldag met daai ding tussen sy bene speel. Hy besluit darem om 5 minute voor ons moet ry in sy klere te spring. (Ek wag vir die dag wat ek gaan blog oor die seuntjie wat kaal skool toe is...)
Soveel bedrywighede op een dag het ek lanklaas gesien. Die huis moet nou na 'n kant toe kom sodat ons kan begin om weer gaste te onthaal. Saterdag hou ons juis partytjie, dis dalk hoekom die gewerkskaf so bietjie spoed kry die week.
Tussen al die gewoel deur kuier vriende uit die platteland. My goeie skool vriendin. Sy het pas uitgevind sy's swanger. Sy en nog 3 van my vriendinne. My suster het ook vandag gehoor hulle verwag 'n seuntjie. So daar is baie boepies rondom my om my besig te hou. Ek is nou op 'n stadium wat ek heeltemal genees is van enige broeisgeit. Ek sal altyd van babas hou, maar vir eers roep ek halt en soek ek 'n bietjie orde in die chaos.
Moederskap is 'n natuurlike instink, maar MA-wees kom met tyd. Om 2 kinders binne 2 jaar te kry is is ietwat van 'n skok, as ek dit nou so kan noem. Ek dink dis net normaal om 'n paar jaar te vat om daaraan gewoond te raak. Dis 'n moerse verantwoordelikheid!
Daar's 'n gesegde wat iets soos volg lui: "with a lot of money comes a lot of responsibility". Ek het nou nie baie geld nie, maar ek sien my gesin as my rykdom. En dit is nou juis hier waar hierdie gesegde vir my waarheid geword het. My 'rykdom' kom met baie verantwoordlikheid.

Wednesday, 10 August 2011
Life is a roller coaster.
Ek sit vanoggend by die kombuis tafel en staar na die stoom wat nog uit die koppie Jacobs Kronung trek. Een van die dae sal dit seker 'n flouer stoompie uit 'n Ricoffy moet wees. My liewe man is vanoggend hier weg om te doen wat hy al 2 jaar lank dreig om te doen. Hy gaan bedank.
Hy het dit al soveel kere van tevore gesê, "my skat, ek gaan bedank!" Dan trek my keel toe en my poephol trek op 'n tuit. Elke keer is ek maar te dankbaar dat dit maar net 'meer bek as binnegoed' is. Die keer egter, is ek bevrees is dit die ware jakob.
Dis 'n vreemde gevoel wat ek het. Ek is rustig en kalm, die toegetrekte keel en die poephol wat tuit trek ontbreek heeltemal. Ek is sowaar rustig en kalm. Inteendeel, ek is opgewonde. Opgewonde oor die nuwe uitdaging wat voor ons lê. Ek besef ons gaan vir 'n paar maande dalk moet droë brood eet en die 'two ply toiletpaper' maar op die winkel rak moet los. Maar as dit is wat ek moet prys gee om my man weer terug te kry, dan is die prys maar min om te betaal.
Ek kan nie wag om koebaai te sê aan die ewige werksoproepe en afwesigheid by die huis oordat hy moet aandag gee aan werk nie. Ek wil nou nie sit en kla oor alles wat verkeerd gegaan het die laaste tyd nie. Ek wil net dit sê, as jou sitsuasie vrot is, is daar net 1 persoon wat dit kan verander en dit is: JY SELF! Ek preek dit al so lank vir hom, en vandag het hy oorgegaan in aksie.
Hy is terug na sy vergadering met die baas (shmaash), dis ofisieel. Hy het bedank, hy moet sy 30 dae uit werk en dan, wat dan? Ons is gereed vir hierdie uitdaging. Ek staan 100% agter hom en ons sal dinge laat werk.
We're 30 and the rollar coaster just started! Lets ride it baby...

Friday, 15 July 2011
Die wonderwerk wêreld van 'n 2 jarige!
Hy luister nie, hy eet nie, hy drink nie sy medisyne nie, hy borsel nie tande nie, hy wil nie gaan slaap nie. My skat, ons vaal as ouers!
Die wonderwerk wêreld van ‘n 2 jarige: Hulle kan vir dae aaneen sonder kos bly en steeds genoeg energie hê om die huis om te dop. Hulle kan gesond word sonder om die behoorlike dosis medisyne te drink. Hulle kan sonder tandeborsel bly, want hulle kry oor ‘n paar jaar weer ‘n nuwe stel tande! Hulle hoef nie te slaap wanneer jy wil hê hulle moet slaap nie, hulle sal slaap wanneer hulle moeg is!
Aan die einde van die dag kom hierdie vuil besmeerde lyfie met 'n tjoklit bekkie na jou toe en sê ‘Mamma, ek is lief vir jou’. Nou DIT, my liewe vriendin, is jou antwoord. Nee, jy vaal nie as ouer nie, jy’t maar net ‘n 2 jarige in jou huis en hy lewe in ‘n wonderwerk wêreld!
Thursday, 14 July 2011
My ouma in 'n boks.
Ek draai hierdie borde een vir een oop en wonder wat jy vandag so sê as jy kon sien dat ek jou eetstel vir 14 jaar in ‘n boks gestoor het vir ‘eendag’. Ek kom tot stilstand en besef vandag is ‘eendag’, ek glimlag en pak verder uit. Ek dink terug aan die geelhout tafel wat in die middel van ‘n beknopte kombuisie staan met 6 stoele rondom en ‘n paar ekstra kroeg stoeltjies onderin gedruk vir wanneer die kleinkinders kom kuier. Dit is dan ook so dat die kleinkinders sommer so drie tot agt op ‘n slag rondom die tafel gesit het. Ek ruik weer houtsaagsels vanuit oupa se werkswinkel en hoor ouma se skaterlag van voor die wasbak. Die klomp ogies om die tafel sit en wag vir roomys! Ouma grawe in die ‘deep-freeze’ opsoek na die roomys wat sy spesiaal vir die kleinkinders bêre, dit is onder die diabetiese soort weg gepak, sy skep vir ons op en gooi sjokolade sous bo-oor, van daai soort wat so hard word. Hierdie einste bakkies wat ek uit hierdie boks pak het eens op ‘n tyd ‘n kinderlike opgewondenheid in my wakker gemaak. Vandag kyk ek met ‘n traan in my oog en glimlag op my gesig na die stel en is dankbaar dat ‘eendag’ aangebreek het. Nou kan ek my eie kinder-gesiggies roomys uit hierdie bakkie voer.
Thursday, 30 June 2011
Tawwe Koekies...
Ek is baie bevoorreg om ‘n vriendin vir ‘n vinnige koffie te kan ontmoet op ‘n Woensdag middag15h00. As ons in ‘mamma-mode’ is ontmoet ons sommer by McDonnals en dan speel die kinders ook ‘n bietjie. As ons in ‘me-time-mode’ is, ontmoet ons alleen in ‘n grênd plekkie met fancy tee koppies.
Sy’s swanger en hulle het met haar vorige afpraak bloed getrek vir die sogenaamde “downs” toetse. Sy ontvang toe ‘n oproep dat daar ‘n moontlikheid is dat die baba Spina Bifida kan hê. Vloek woord, ek weet. Die woord lui vaagweg ‘n klokkie, dis die oop rugstring geboorte defek.
My gemoed sak tot in my skoene. My arme arme vriendin. Dit nadat sy nou 2 miskrame gehad het. Dit is mos AL waaraan ‘n mens die heeltyd dink. “Die lewetjie hier binne my is dalk siek, dalk , net dalk, maar wat as sy wel is, of wat as sy nie is nie, wat gaan ek maak, gaan ek iets maak?” Al wat sy nou kan doen is om te wag vir verdere uitslae, maar steeds sal dit nie 100% wees nie.
Daar is so baie van hierdie mammas. Stil geboortes, buis swangerskappe, miskrame, Spina Bifida, Trisomie 18, Down Sindroom, Patau Simdroom(Trisomie 13) en ek is seker daar is nog waarvan ek nie weet nie.
Ek is seker daarvan die Here kies hierdie mammas noukeurig uit. Hy weét hulle kan dit hanteer en Hy gee vir hulle die krag om ‘tough’ te wees. Dalk is dit hoe Hy hulle wil sterk (tough) maak, - Hy kon hulle maar gym toe gestuur het, daai pyn is darem net tydelik :) – maar die pyn van ‘n siek ongebore baba, of ‘n baba wat nie die lig sien nie, dis vir ewig. Ek het eens hierdie stukkie gelees: Jy kan ‘n gebreekte kruik lym, maar die barste sal nooit daaruit verdwyn.
Elkeen se siening is anders, sommige ouers glo dat jy die lewe wat aan jou gegee word moet hanteer soos dit kom, sommige ouers kies om te aborteer as daar probleme is. As ouerskap my een ding geleer het, is dit om nie te oordeel nie, veral nie op ander ouers se ouerskap keuses nie! Die feit bly staan soms het jy ‘n keuse. Dis swaar keuses, maar die Here lei jou, kyk op en neem Sy hand wat Hy uitsteek na jou. Hy sal jou help om die regte ding te doen.
Ek dra hierdie stukkie op aan al die mammas wat ek ken wat al ‘n baba moes laat ‘gaan’ en ook aan al die mammas wat tans voor die deur van hierdie besluit staan.
Julle is die tawwe koekies!!
Tuesday, 28 June 2011
Slaap is vir kabouters
Slaap is vir kabouters…
Dis verseker die nommer 1 ding waaroor ma’s kla. SLAAP!! Elke mens moet tog slaap, blykbaar is 8 ure n goeie nagrus. Nou hoekom funksioneer so baie ma’s soos superwoman daarsonder? Iewers het ek iets gemis.
Gisteraand was nou weer een van daai nagte, nou wat gebeur nou regtig in DAAI nag? Dis ook iets wat ‘n mens nie regtig kan oor vertel nie, dis soos om ‘uit die kamer’ te praat…
Kom ek bieg nou maar. Ek en Sarel het al lankal die besluit geneem dat ons nie ons koppe gaan breek oor kinders wat by ons in die bed slaap nie. Ons het toe so jaar gelede een van die beste beleggings nog gemaak, en vir ons n KING SIZE bed gekoop. Wow, dis nou vir jou ‘n bed. Alhoewel hy nou weer bietjie klein begin word met Cilliers ook in die bed.
Iewers het iets fout gegaan en Cilliers kan nie anders as in my arms aan die slaap raak nie. Hy’s nou 9 maande en ek weet nie hoe om dit te verander nie. Die ma’s wie se kinders goed slaap, sal nou iets te sê hê soos: “Sit hom net neer en laat hom huil”. Ek kan nie. Ek kan net nie, kan dit nie verduidelik nie, maar ek kan net nie!
Ek kon dit wel met Ben doen. Hy was bottel baba en ek kon dit maklik met hom doen, na ‘n week se geskree het hy soos ‘n droom geslaap. Maar Cilliers, ek weet nie, ek kan nie. Sy persoonlikheid is anders, hy’s fyn gevoelig en skree so erg dat niks hom kan troos behalwe die tietie nie. Ja, soos in my tietie, soos in borsvoed!
Met die gevolg hy raak so teen 8uur aan die slaap en teen 12uur raak hy met n groot gejuig wakker. Hy skree asof jy sy vinger met ‘n hammer geslaan het. Sodra ek naby kom trek daai bek ‘n tuit reguit na my tietie toe. Dis wonderlik, baie vrouens wens hulle kon borsvoed, dis goed vir ‘bonding’, dit maak jou kind slim, dis glo die beste ding wat jy ooit in jou lewe sal doen. Wel gedaan, ‘you go mom!”. Plak daai sticker op my skouer!
Maar regtig? As borsvoeding dan nou so wonderlik is, hoekom kan dit nie sommer die babas van 2 weke af laat deurslaap nie. Hier is my liewe baba nou 9 maande oud en hy drink al van geboorte af elke liewe nag elke 2 ure!! Iewers het hy darem begin slaap van 8-12, maar na 12 is dit 2uur, 4uur, 7uur. Ja julle mammas wie se babas al van 6 weke af deur slaap, kry my nou maar jammer, en oordeel maar.
Pappa en baba het op die ou end in die king size bed wakker geword en ek saam met Ben in sy kamer.
Wanneer die dag aanbreek is dit asof alles van die vorige nag vergete is, hoe moet jy dan nou maak? Jy is superwoman en jy moet die huishouding aan die gang sit sodat jy weer breë bors jou dag kan begin.
Iemand fluister in my oor, die gedeelte wat ek in die baba boeke gemis het……Slaap is vir kabouters!
Sunday, 26 June 2011
Moederskap
Ek was oortuig daarvan ek het n passie vir babas. Maar die werklikheid het nou tot my deurgedring en ek het besef ek het eintlik 'n passie vir MOERDERSKAP. Moederskap is iets wat jy nie kan verstaan voor jy nie self daar is nie, al wil jy hoe graag, jy kan net nie. En as jy eérs daar is! Dan het jy sommer eweskielik iets in gemeen met baie ander vrouens.
Moederskap is om jou 9maande oue baba elke 2 ure in die nag te borsvoed, moederskap is om daai kwylbekkie te soen sonder om daarvoor te gril en moederskap is om ‘n holderste-bolder-deurmekaar-dag in ‘n pret belaaide vreugdevolle dag te omskep.
My man vra my gisteraand sommer so uit die bloute; “ek wonder wat het ons gedoen voor ons kinders gehad het”…. Ek lag sommer so in my binneste. “Goeie vraag, wat hét ons gedoen?” Ons het geslaap, baie seks gehad en ten minste een keer ‘n week uitgeeet, en elke Vrydag en Saterdag by vriende gebraai.
Dis asof ons nou eweskielik in die skim verander het, want niemand nooi ons meer vir ‘n braai nie en as iemand jou nooi word die aand eers haarfyn beplan en aan jou man uitgespel. “Jy sorg dat daai vleis vroeg op die kole is dat ons nie te laat eet nie, sodat ons vroeg by die huis kan kom om die kinders in die bed te kry.”
Dis amper soos die hoender en die eier. Wie was eerste “mense met kinders” of “mense sonder kinders”. Okay, behalwe nou dat die Bybel vir ons sê Adam en Eva was eerste, jy verstaan wat ek bedoel. Die een is nie belangriker as die ander nie. Daar moet ‘mense met kinders’ wees om te sorg dat daar weer ‘mense sonder kinders’ in ons samelewing kan wees en andersom. Die ‘mense met kinders’ voel jammer vir die ‘mense sonder kinders’ en andersom!
Wat’s my punt nou eintlik? My punt is, sodra ‘n mens kinders kry verdwyn jou vriende sonder kinders so bietjie van die prentjie af, dis niemand se skuld nie, dit gebeur net. Julle belange is nie meer dieselfde nie. Maar dit sal gou weer reg gestel word wanneer daardie selfde vriende ook die taak van ouerskaap opgelê word. Sien, ouers verstaan mekaar, al is jou kinders nou 2 of 22! Dis soos rugby spelers die spel verstaan “it’s the same game, just different players”.
Moederskap is nie net ‘n naam of ‘n woord nie, dis ‘n status. ‘n Moeder kan na n deurmekaar oggend van pap in die keel af wurg en ‘n gebed dat my arme kind se tande nie sal vrot word as hy nie tandeborsel nie, en ‘n gesoek na die verlore skoen en ‘n super vinnige kosblik in die tas gooi, breë bors by die voordeur uitstap en die wêreld vierkantig in die oë kyk en haar kind trots by die skool gaan aflaai.
‘n Moeder dink altyd eers aan haar kinders en ‘n moeder lyk altyd in beheer, al voel sy nie so nie!
p.s. ek het nie vergeet om die make-up te noem in my beskrywing van n deurmekaar oggend nie, die make-up is mos in die handsak en word in die kar aangesit…
Friday, 17 June 2011
Eerste dag uit die huis....
Vandag se blog het ek al 'n paar maande gelede geskryf. Ek het dit daardie dag getik, vir as ek eendag begin blog. Nou ja, hier volg ons eerste dag uit:
Vanoggend besluit ek om my 2 jarige by die huis te hou, hy huil in elk geval net in die oggende want hy wil nie skool toe gaan nie. Nadat ek die besluit geneem het besef ek baba boetie is vandag 4 weke oud en moet geweeg word. Net daar spandeer ek n goeie uur om te visualiseer wat die beste manier sal wees om met 2 kinders uit die huis te gaan…weer 'n eerste vir my. Twee kinders in die kar, nee nie twee kinders nie, n 2 jarige en n pap babatjie, (dis n ander katagorie is net KINDERS!). Twee stootwaentjies sal nie werk nie, ek het nou wel 2 hande, maar is nou ook nie super woman nie. Die kango pouch…nee net nou huil hy so dat ek hom nie stil kry nie. Aaahhh, ek het dit!! Die winkel trollie!!! Ons goeie vriend, die winkel trollie!
Ben voor in die trollie en baba in sy stoeltjie ninne in die trollie. Jip dit klink na n plan. “Kom kinders ons maak gereed vir die uitstappie” By die kar gekom, nou moet die 2 ingelaai en vas gemaak word. Ek sit vir babatjie in en boetie hardloop straat toe, gryp vir boetie aan sy klere en gooi hom in die kar, soebat dat hy in sy stoeltjie moet klim en uiteindelik kan ek hom vas maak, ek sug van verligting klim in die kar en trek weg…
net om te onthou ek het nooit baba se stoeltjie vasgemaak nie, stop die kar, spring uit, maak babatjie vas, sug van verligting klim in die kar en trek weg. Alles verloop goed tot by die winkel sentrum. Soos ek by die parkeerarea in ry besef ek vir die eerste keer waarvoor daai ‘moms with babies’ parkerings is. Dit moet eintlik lees, “baby’s first shopping experience’ want elke ma wat met haar nuwe baba winkel toe gaan is total en al paniek bevange. Al wys jy dit nie, jou hart klop in jou keel en jou broekspyp bewe.
Ek het spasie nodig om hulle uit te laai en as een huil wil ek so vinnig as moontlik weer by die kar kom en huis toe jaag. Die koue sweet slat my uit, wat as ouboet voor die karre inhardloop terwyl ek besig is met baba, wat as baba verstik terwyl ek vir ouboet uitlaai. Ek haal diep asem klim uit die kar en dank die liewe Vader vir die trollie wat sommer so reg langs die kar staan, want as ek nog moes hol vir dit ook, was ek weer bekommerd dat die kinders in die kar sal versmoor. Laai die twee in die trollie soos beplan, oubout voor en baba in sy stoeltjie binne in die trollie. Ek sug van verligting, lig my kop op, staar die wêreld vierkantig in die oë en loop ewe braaf en trots die winkelsentrum binne.....
Friday, 3 June 2011
Benoude oomblik
Ons het sopas terug gekom vanaf ons heel eerste vakansie as gesin van vier. Sonder enige oppassers en/of oumas en oupas.
Dit was n heerlike wegbreek en afskakel van die allerdaagse deurmekaar gewarrel. Ek en my man het wel 'n benoude oomblik beleef en vir 'n oomblik gedink ek mag dalk weer swanger wees. G L I P S I E, sou dit heel duidelik wees. Hoekom noem hulle dit 'n glipsie, dit is nie wat dit is nie! 'n glipsie is as jy per ongeluk in jou broek piepie. Hierdie tipe glipsie weet presies hy 'glip' nou waar hy nie moet nie!
Gelukkig was daar net 1 strepie op die stokkie...sjoe, asem uit van verligtig!
Ek het vandag sonder enige verdere versuim gegaan om die sogenaamde 'loop' te kry. Wat 'loop' (knoop) daaraan weet ek nie, want dis so klein T-vormige affêre wat binne jou geplaas word, niks knoop nie. Die genikeloog is altyd so bedagsaam om met jou te gesels terwyl hulle met jou private dele werk, en dan word alles mos so op die regte name genoem. Die name wat ons nie regtig ken nie. Ek meen, ek lê daar net my bene wa wyd oop met een of ander yskoue-oop-bek-blink-instrument in my vagina dan vra sy vir my, "kramp jou serviks". Hallloooo waar presies sit dit en hoe moet dit nou eintlik voel? "Nee wat ek's fine dok, krap maar voort!" Dit bly maar net 'n onplesierige storie, maar die "knoop is glo gemaak", af al tans die Nova T is in geplaas en ons is veilig, glo al van gister af, as ek dit maar net gister al geweet het!

Friday, 27 May 2011
My gesin
Ek stap vanaand n paar keer deur die lang gang van my huis en loer by elke kamer in. Baba slaap, Ben slaap en Sarel is ook al in die bed en dis maar nog net 21h00. Ek is maar n naguil, skrop tot die vroee oggend ure rond.
My gedagtes borrel oor van idees vir my nuut gevonde 'blog'. Ek wou nog altyd my eie 'blog' he, en nou kry ek uiteindelik die geleentheid om voor die rekenaar te kom sit en die hele gedoente uit te syfer.
Laat ons by die begin begin, en julle eers vertel van my gesin. My profesionele lewe is vir genots doeleindes nie in hierdie blog ter sprake nie. Hier blog ek net oor my en my gesin en ons doen en late. Ek hoop ek sal nog mammas vind wat kan assosieer met die de Langes.
Sonja de Lange, 31 jaar oud en al 6 jaar getroud met Sarel de Lange, ook 31. Ons het n pragtige, woelige en slim seun, Ben, hy word die jaar (2011) n volle 3 jaar oud. Die Here was vir ons goed en het ons nog n bonneltjie goud gegee sy naam is Cilliers, hy is tans 8 maande oud en bring vir ons van voor af hope vreugde. Nou ja, in kort is dit ons... o nee, dit is nie net so kort nie....daar is nog. Ons het ook n hiperaktiewe hond Simba, en n kat, Sokkies, met n identiteits probleem. En dan is daar die ligpunt van ons huishouding, ons inslaap bediende, Margerieta, of soos Ben haar gedoop het "Rieta".
DIT is dan nou die de Lange huishouding. Ek gaan julle op hoogte hou van ons doen en late en ek glo ons sal baie vermaak en genot kan verskaf. Meeste van die mense wat ek ken is tans swanger of het klein kinders en hulle doen en late sal ek ook met julle deel.
Welkom by my "blog", hier praat ek afrikaans en sal die engelse woorde so tussen in gooi as ek nie n beter afrikaanse woord kan kry nie, soos bv 'blog'... kom lag saam met my en gesels saam met my.

Subscribe to:
Posts (Atom)