Friday, 17 June 2011

Eerste dag uit die huis....

Vandag se blog het ek al 'n paar maande gelede geskryf. Ek het dit daardie dag getik, vir as ek eendag begin blog. Nou ja, hier volg ons eerste dag uit:

Vanoggend besluit ek om my 2 jarige by die huis te hou, hy huil in elk geval net in die oggende want hy wil nie skool toe gaan nie. Nadat ek die besluit geneem het besef ek baba boetie is vandag 4 weke oud en moet geweeg word. Net daar spandeer ek n goeie uur om te visualiseer wat die beste manier sal wees om met 2 kinders uit die huis te gaan…weer 'n eerste vir my. Twee kinders in die kar, nee nie twee kinders nie, n 2 jarige en n pap babatjie, (dis n ander katagorie is net KINDERS!). Twee stootwaentjies sal nie werk nie, ek het nou wel 2 hande, maar is nou ook nie super woman nie. Die kango pouch…nee net nou huil hy so dat ek hom nie stil kry nie. Aaahhh, ek het dit!! Die winkel trollie!!! Ons goeie vriend, die winkel trollie!

Ben voor in die trollie en baba in sy stoeltjie ninne in die trollie. Jip dit klink na n plan. “Kom kinders ons maak gereed vir die uitstappie” By die kar gekom, nou moet die 2 ingelaai en vas gemaak word. Ek sit vir babatjie in en boetie hardloop straat toe, gryp vir boetie aan sy klere en gooi hom in die kar, soebat dat hy in sy stoeltjie moet klim en uiteindelik kan ek hom vas maak, ek sug van verligting klim in die kar en trek weg…

net om te onthou ek het nooit baba se stoeltjie vasgemaak nie, stop die kar, spring uit, maak babatjie vas, sug van verligting klim in die kar en trek weg. Alles verloop goed tot by die winkel sentrum. Soos ek by die parkeerarea in ry besef ek vir die eerste keer waarvoor daai ‘moms with babies’ parkerings is. Dit moet eintlik lees, “baby’s first shopping experience’ want elke ma wat met haar nuwe baba winkel toe gaan is total en al paniek bevange. Al wys jy dit nie, jou hart klop in jou keel en jou broekspyp bewe.

Ek het spasie nodig om hulle uit te laai en as een huil wil ek so vinnig as moontlik weer by die kar kom en huis toe jaag. Die koue sweet slat my uit, wat as ouboet voor die karre inhardloop terwyl ek besig is met baba, wat as baba verstik terwyl ek vir ouboet uitlaai. Ek haal diep asem klim uit die kar en dank die liewe Vader vir die trollie wat sommer so reg langs die kar staan, want as ek nog moes hol vir dit ook, was ek weer bekommerd dat die kinders in die kar sal versmoor. Laai die twee in die trollie soos beplan, oubout voor en baba in sy stoeltjie binne in die trollie. Ek sug van verligting, lig my kop op, staar die wêreld vierkantig in die oë en loop ewe braaf en trots die winkelsentrum binne.....

No comments:

Post a Comment