Wednesday, 1 February 2012

Die begin van die einde....

"Jammer ek het so lanklaas 'n blog geplaas. Hier is een wat ek al meer as 'n maand terug geskryf het en vergeet het om te plaas":


Ek het laas week vir my nuwe bra’s gaan koop, nie borsvoed bra’s nie, net mooi vroulike bra’s met kant. Die nuwe bra hou alles so mooi bymekaar ek skrik skoon toe ek die nuwe boesem in die spieël sien. En net daar tref dit my….

 Is dit die begin van die einde?

Beteken dit nou ek is besig om gereed te maak om op te hou borsvoed? Ek het nie regtig meer die borsvoed bra nodig nie, want ek hoef nie elke 4 ure my boobs uit te haal nie. Hy drink tog eintlik net deur die nag. Ook nie eens regtig meer nie, hy begin nou eweskielik na ‘n jaar deur slaap.


Soggens staan hy vrolik op, saans gaan slaap hy maklik. Hy huil nie meer vir die tietie nie. Hy vra dus nie meer nie, maar ek bied aan en hy aanvaar. Ek besef nou ek is in beheer, as ek nie meer aanbied nie kan ons nou stop met borsvoeding.

Dit is wat ek al op 4 maande wou doen. Ek het op daardie stadium my kop reg gekry en nou? Nou klou ek so aan daardie paar minute se kosbare koestering dat ek nie kan afskeid neem nie. 

‘n Sagte stem sê vir my “dit is jou kans om hom te speen, moenie weer aanbied nie”. Maar elke oggend en elke aand wil ek nog net vir ‘n laaste keer borsvoed. Net vir ‘n laaste keer daardie tevrede sluk hoor en daardie gesiggie teen my vel voel. As ek hom nou speen is dit vir ewig verby.

Ek het altyd gedink ek is so ‘n tawwe mamma, sulke kleinighede sal my nie onderkry nie. Maar hierdie is weer een van daardie mamma oomblike wat jy nie kan beskryf nie, wat niemand sal verstaan wat nog nie self daar gestaan het nie.

Nooit het ek ook gedink ek sal die volgende verkondig nie: Borsvoeding is die kosbaarste daad wat jy ooit kan doen. Daar is werklik ‘n WOW factor omtrent borsvoeding. Dis nie iets wat jy mis as jy nie geborsvoed het nie. Dis net iets wat daar is as jy wel so bevoorreg is om jou baba te kan borsvoed.

My raad aan enige mamma is om te probeer en as dit nie met jou 1ste kind werk nie, gun jou 2de kind daardie kans en probeer weer. Vir my het dit gewerk met die 2de probeerslag!