Thursday, 30 June 2011

Tawwe Koekies...




Ek is baie bevoorreg om ‘n vriendin vir ‘n vinnige koffie te kan ontmoet op ‘n Woensdag middag15h00. As ons in ‘mamma-mode’ is ontmoet ons sommer by McDonnals en dan speel die kinders ook ‘n bietjie. As ons in ‘me-time-mode’ is, ontmoet ons alleen in ‘n grênd plekkie met fancy tee koppies.

Sy’s swanger en hulle het met haar vorige afpraak bloed getrek vir die sogenaamde “downs” toetse. Sy ontvang toe ‘n oproep dat daar ‘n moontlikheid is dat die baba Spina Bifida kan hê. Vloek woord, ek weet. Die woord lui vaagweg ‘n klokkie, dis die  oop rugstring geboorte defek.

My gemoed sak tot in my skoene. My arme arme vriendin. Dit nadat sy nou 2 miskrame gehad het. Dit is mos AL waaraan ‘n mens die heeltyd dink. “Die lewetjie hier binne my is dalk siek, dalk , net dalk, maar wat as sy wel is, of wat as sy nie is nie, wat gaan ek maak, gaan ek iets maak?” Al wat sy nou kan doen is om te wag vir verdere uitslae, maar steeds sal dit nie 100% wees nie.

Daar is so baie van hierdie mammas. Stil geboortes, buis swangerskappe, miskrame, Spina Bifida, Trisomie 18, Down Sindroom, Patau Simdroom(Trisomie 13) en ek is seker daar is nog waarvan ek nie weet nie.

Ek is seker daarvan die Here kies hierdie mammas noukeurig uit. Hy weét hulle kan dit hanteer en Hy gee vir hulle die krag om ‘tough’ te wees. Dalk is dit hoe Hy hulle wil sterk (tough) maak, - Hy kon hulle maar gym toe gestuur het, daai pyn is darem net tydelik :) – maar die pyn van ‘n siek ongebore baba, of ‘n baba wat nie die lig sien nie, dis vir ewig. Ek het eens hierdie stukkie gelees: Jy kan ‘n gebreekte kruik lym, maar die barste sal nooit daaruit verdwyn.

Elkeen se siening is anders, sommige ouers glo dat jy die lewe wat aan jou gegee word moet hanteer soos dit kom, sommige ouers kies om te aborteer as daar probleme is. As ouerskap my een ding geleer het, is dit om nie te oordeel nie, veral nie op ander ouers se ouerskap keuses nie! Die feit bly staan soms het jy ‘n keuse. Dis swaar keuses, maar die Here lei jou, kyk op en neem Sy hand wat Hy uitsteek na jou. Hy sal jou help om die regte ding te doen.

Ek dra hierdie stukkie op aan al die mammas wat ek ken wat al ‘n baba moes laat ‘gaan’ en ook aan al die mammas wat tans voor die deur van hierdie besluit staan.

Julle is die tawwe koekies!!


Tuesday, 28 June 2011

My vissies

Gee tog asb my vissies kos bo aan die bladsy...

Slaap is vir kabouters

Slaap is vir kabouters…

Dis verseker die nommer 1 ding waaroor ma’s kla. SLAAP!! Elke mens moet tog slaap, blykbaar is 8 ure n goeie nagrus. Nou hoekom funksioneer so baie ma’s soos superwoman daarsonder? Iewers het ek iets gemis.

Gisteraand was nou weer een van daai nagte, nou wat gebeur nou regtig in DAAI nag? Dis ook iets wat ‘n mens nie regtig kan oor vertel nie, dis soos om ‘uit die kamer’ te praat…

Kom ek bieg nou maar. Ek en Sarel het al lankal die besluit geneem dat ons nie ons koppe gaan breek oor kinders wat by ons in die bed slaap nie. Ons het toe so jaar gelede een van die beste beleggings nog gemaak, en vir ons n KING SIZE bed gekoop. Wow, dis nou vir jou ‘n bed. Alhoewel hy nou weer bietjie klein begin word met Cilliers ook in die bed.

Iewers het iets fout gegaan en Cilliers kan nie anders as in my arms aan die slaap raak nie. Hy’s nou 9 maande en ek weet nie hoe om dit te verander nie. Die ma’s wie se kinders goed slaap, sal nou iets te sê hê soos: “Sit hom net neer en laat hom huil”. Ek kan nie. Ek kan net nie, kan dit nie verduidelik nie, maar ek kan net nie!

Ek kon dit wel met Ben doen. Hy was bottel baba en ek kon dit maklik met hom doen, na ‘n week se geskree het hy soos ‘n droom geslaap. Maar Cilliers, ek weet nie, ek kan nie. Sy persoonlikheid is anders, hy’s fyn gevoelig en skree so erg dat niks hom kan troos behalwe die tietie nie. Ja, soos in my tietie, soos in borsvoed!

Met die gevolg hy raak so teen 8uur aan die slaap en teen 12uur raak hy met n groot gejuig wakker. Hy skree asof jy sy vinger met ‘n hammer geslaan het. Sodra ek naby kom trek daai bek ‘n tuit reguit na my tietie toe. Dis wonderlik, baie vrouens wens hulle kon borsvoed, dis goed vir ‘bonding’, dit maak jou kind slim, dis glo die beste ding wat jy ooit in jou lewe sal doen. Wel gedaan, ‘you go mom!”. Plak daai sticker op my skouer!

Maar regtig? As borsvoeding dan nou so wonderlik is, hoekom kan dit nie sommer die babas van 2 weke af laat deurslaap nie. Hier is my liewe baba nou 9 maande oud en hy drink al van geboorte af elke liewe nag elke 2 ure!! Iewers het hy darem begin slaap van 8-12, maar na 12 is dit 2uur, 4uur, 7uur.  Ja julle mammas wie se babas al van 6 weke af deur slaap, kry my nou maar jammer, en oordeel maar.

Om terug te kom na gisteraand. Nadat hy 04:00 gedrink het maak ek toe die fout om hom terug te dra na sy kot. Toe ek hom neerlê, spring sy oë oop asof ek n ‘aan knoppie’ gedruk het. Hy’s vrolik soos wat jy hom kan kry. Ek klim toe in sy kamer se bed saam met hom (goedhartige mamma, dink aan pappa wat moet gaan werk en darem n bietjie rus in kry)…needless to say…die volgende oomblik skree Ben vir sy ma. Hoe nou gemaak? Dalk moet ons ruil, pappa by baba en mamma by Ben. Doen die ruiling, o weë, baba wil ook net sy ma hê (of sy bottels). Ek neem toe maar altwee seuns by my in die King Size bed. Daar skree Ben weer vir Cilliers wakker, ag dis nou net 'n deurmekaar spul, almal is wakker, maar almal wil ook tog so graag slaap. Die verdere gebeure is so bietjie vaag. Daar was nog ‘n paar ruil aksies van die een kamer en van die een bed na die ander, as die musiek aan was kon jy sweer ons speel ‘musical beds’.

Pappa en baba het op die ou end in die king size bed wakker geword en ek saam met Ben in sy kamer.

Wanneer die dag aanbreek is dit asof alles van die vorige nag vergete is, hoe moet jy dan nou maak? Jy is superwoman en jy moet die huishouding aan die gang sit sodat jy weer breë bors jou dag kan begin.

Iemand fluister in my oor, die gedeelte wat ek in die baba boeke gemis het……Slaap is vir kabouters!

Sunday, 26 June 2011

Moederskap

Ek was oortuig daarvan ek het n passie vir babas. Maar die werklikheid het nou tot my deurgedring en ek het besef ek het eintlik 'n passie vir MOERDERSKAP. Moederskap is iets wat jy nie kan verstaan voor jy nie self daar is nie, al wil jy hoe graag, jy kan net nie. En as jy eérs daar is! Dan het jy sommer eweskielik iets in gemeen met baie ander vrouens.

Moederskap is om jou 9maande oue baba elke 2 ure in die nag te borsvoed, moederskap is om daai kwylbekkie te soen sonder om daarvoor te gril en moederskap is om ‘n holderste-bolder-deurmekaar-dag in ‘n pret belaaide vreugdevolle dag te omskep.

My man vra my gisteraand sommer so uit die bloute; “ek wonder wat het ons gedoen voor ons kinders gehad het”…. Ek lag sommer so in my binneste. “Goeie vraag, wat hét ons gedoen?” Ons het geslaap, baie seks gehad en ten minste een keer ‘n week uitgeeet, en elke Vrydag en Saterdag by vriende gebraai.

Dis asof ons nou eweskielik in die skim verander het, want niemand nooi ons meer vir ‘n braai nie en as iemand jou nooi word die aand eers haarfyn beplan en aan jou man uitgespel. “Jy sorg dat daai vleis vroeg op die kole is dat ons nie te laat eet nie, sodat ons vroeg by die huis kan kom om die kinders in die bed te kry.”

Dis amper soos die hoender en die eier. Wie was eerste “mense met kinders” of “mense sonder kinders”. Okay, behalwe nou dat die Bybel vir ons sê Adam en Eva was eerste, jy verstaan wat ek bedoel. Die een is nie belangriker as die ander nie. Daar moet ‘mense met kinders’ wees om te sorg dat daar weer ‘mense sonder kinders’ in ons samelewing kan wees en andersom. Die ‘mense met kinders’ voel jammer vir die ‘mense sonder kinders’ en andersom!

Wat’s my punt nou eintlik? My punt is, sodra ‘n mens kinders kry verdwyn jou vriende sonder kinders so bietjie van die prentjie af, dis niemand se skuld nie, dit gebeur net. Julle belange is nie meer dieselfde nie. Maar dit sal gou weer reg gestel word wanneer daardie selfde vriende ook die taak van ouerskaap opgelê word. Sien, ouers verstaan mekaar, al is jou kinders nou 2 of 22! Dis soos rugby spelers die spel verstaan “it’s the same game, just different players”.

Moederskap is nie net ‘n naam of ‘n woord nie, dis ‘n status. ‘n Moeder kan na n deurmekaar oggend van pap in die keel af wurg en ‘n gebed dat my arme kind se tande nie sal vrot word as hy nie tandeborsel nie, en ‘n gesoek na die verlore skoen en ‘n super vinnige kosblik in die tas gooi, breë bors by die voordeur uitstap en die wêreld vierkantig in die oë kyk en haar kind trots by die skool gaan aflaai.  

‘n Moeder dink altyd eers aan haar kinders en ‘n moeder lyk altyd in beheer, al voel sy nie so nie!

p.s. ek het nie vergeet om die make-up te noem in my beskrywing van n deurmekaar oggend nie, die make-up is mos in die handsak en word in die kar aangesit…

Friday, 17 June 2011

Eerste dag uit die huis....

Vandag se blog het ek al 'n paar maande gelede geskryf. Ek het dit daardie dag getik, vir as ek eendag begin blog. Nou ja, hier volg ons eerste dag uit:

Vanoggend besluit ek om my 2 jarige by die huis te hou, hy huil in elk geval net in die oggende want hy wil nie skool toe gaan nie. Nadat ek die besluit geneem het besef ek baba boetie is vandag 4 weke oud en moet geweeg word. Net daar spandeer ek n goeie uur om te visualiseer wat die beste manier sal wees om met 2 kinders uit die huis te gaan…weer 'n eerste vir my. Twee kinders in die kar, nee nie twee kinders nie, n 2 jarige en n pap babatjie, (dis n ander katagorie is net KINDERS!). Twee stootwaentjies sal nie werk nie, ek het nou wel 2 hande, maar is nou ook nie super woman nie. Die kango pouch…nee net nou huil hy so dat ek hom nie stil kry nie. Aaahhh, ek het dit!! Die winkel trollie!!! Ons goeie vriend, die winkel trollie!

Ben voor in die trollie en baba in sy stoeltjie ninne in die trollie. Jip dit klink na n plan. “Kom kinders ons maak gereed vir die uitstappie” By die kar gekom, nou moet die 2 ingelaai en vas gemaak word. Ek sit vir babatjie in en boetie hardloop straat toe, gryp vir boetie aan sy klere en gooi hom in die kar, soebat dat hy in sy stoeltjie moet klim en uiteindelik kan ek hom vas maak, ek sug van verligting klim in die kar en trek weg…

net om te onthou ek het nooit baba se stoeltjie vasgemaak nie, stop die kar, spring uit, maak babatjie vas, sug van verligting klim in die kar en trek weg. Alles verloop goed tot by die winkel sentrum. Soos ek by die parkeerarea in ry besef ek vir die eerste keer waarvoor daai ‘moms with babies’ parkerings is. Dit moet eintlik lees, “baby’s first shopping experience’ want elke ma wat met haar nuwe baba winkel toe gaan is total en al paniek bevange. Al wys jy dit nie, jou hart klop in jou keel en jou broekspyp bewe.

Ek het spasie nodig om hulle uit te laai en as een huil wil ek so vinnig as moontlik weer by die kar kom en huis toe jaag. Die koue sweet slat my uit, wat as ouboet voor die karre inhardloop terwyl ek besig is met baba, wat as baba verstik terwyl ek vir ouboet uitlaai. Ek haal diep asem klim uit die kar en dank die liewe Vader vir die trollie wat sommer so reg langs die kar staan, want as ek nog moes hol vir dit ook, was ek weer bekommerd dat die kinders in die kar sal versmoor. Laai die twee in die trollie soos beplan, oubout voor en baba in sy stoeltjie binne in die trollie. Ek sug van verligting, lig my kop op, staar die wêreld vierkantig in die oë en loop ewe braaf en trots die winkelsentrum binne.....

Friday, 3 June 2011

Benoude oomblik

Ons het sopas terug gekom vanaf ons heel eerste vakansie as gesin van vier. Sonder enige oppassers en/of oumas en oupas.

Dit was n heerlike wegbreek en afskakel van die allerdaagse deurmekaar gewarrel. Ek en my man het wel 'n benoude oomblik beleef en vir 'n oomblik gedink ek mag dalk weer swanger wees. G L I P S I E, sou dit heel duidelik wees. Hoekom noem hulle dit 'n glipsie, dit is nie wat dit is nie! 'n glipsie is as jy per ongeluk in jou broek piepie. Hierdie tipe glipsie weet presies hy 'glip' nou waar hy nie moet nie!

Gelukkig was daar net 1 strepie op die stokkie...sjoe, asem uit van verligtig!

Ek het vandag sonder enige verdere versuim gegaan om die sogenaamde 'loop' te kry. Wat 'loop' (knoop) daaraan weet ek nie, want dis so klein T-vormige affêre wat binne jou geplaas word, niks knoop nie. Die genikeloog is altyd so bedagsaam om met jou te gesels terwyl hulle met jou private dele werk, en dan word alles mos so op die regte name genoem. Die name wat ons nie regtig ken nie. Ek meen, ek lê daar net my bene wa wyd oop met een of ander yskoue-oop-bek-blink-instrument in my vagina dan vra sy vir my, "kramp jou serviks". Hallloooo waar presies sit dit en hoe moet dit nou eintlik voel? "Nee wat ek's fine dok, krap maar voort!" Dit bly maar net 'n onplesierige storie, maar die "knoop is glo gemaak", af al tans die Nova T is in geplaas en ons is veilig, glo al van gister af, as ek dit maar net gister al geweet het!