Slaap is vir kabouters…
Dis verseker die nommer 1 ding waaroor ma’s kla. SLAAP!! Elke mens moet tog slaap, blykbaar is 8 ure n goeie nagrus. Nou hoekom funksioneer so baie ma’s soos superwoman daarsonder? Iewers het ek iets gemis.
Gisteraand was nou weer een van daai nagte, nou wat gebeur nou regtig in DAAI nag? Dis ook iets wat ‘n mens nie regtig kan oor vertel nie, dis soos om ‘uit die kamer’ te praat…
Kom ek bieg nou maar. Ek en Sarel het al lankal die besluit geneem dat ons nie ons koppe gaan breek oor kinders wat by ons in die bed slaap nie. Ons het toe so jaar gelede een van die beste beleggings nog gemaak, en vir ons n KING SIZE bed gekoop. Wow, dis nou vir jou ‘n bed. Alhoewel hy nou weer bietjie klein begin word met Cilliers ook in die bed.
Iewers het iets fout gegaan en Cilliers kan nie anders as in my arms aan die slaap raak nie. Hy’s nou 9 maande en ek weet nie hoe om dit te verander nie. Die ma’s wie se kinders goed slaap, sal nou iets te sê hê soos: “Sit hom net neer en laat hom huil”. Ek kan nie. Ek kan net nie, kan dit nie verduidelik nie, maar ek kan net nie!
Ek kon dit wel met Ben doen. Hy was bottel baba en ek kon dit maklik met hom doen, na ‘n week se geskree het hy soos ‘n droom geslaap. Maar Cilliers, ek weet nie, ek kan nie. Sy persoonlikheid is anders, hy’s fyn gevoelig en skree so erg dat niks hom kan troos behalwe die tietie nie. Ja, soos in my tietie, soos in borsvoed!
Met die gevolg hy raak so teen 8uur aan die slaap en teen 12uur raak hy met n groot gejuig wakker. Hy skree asof jy sy vinger met ‘n hammer geslaan het. Sodra ek naby kom trek daai bek ‘n tuit reguit na my tietie toe. Dis wonderlik, baie vrouens wens hulle kon borsvoed, dis goed vir ‘bonding’, dit maak jou kind slim, dis glo die beste ding wat jy ooit in jou lewe sal doen. Wel gedaan, ‘you go mom!”. Plak daai sticker op my skouer!
Maar regtig? As borsvoeding dan nou so wonderlik is, hoekom kan dit nie sommer die babas van 2 weke af laat deurslaap nie. Hier is my liewe baba nou 9 maande oud en hy drink al van geboorte af elke liewe nag elke 2 ure!! Iewers het hy darem begin slaap van 8-12, maar na 12 is dit 2uur, 4uur, 7uur. Ja julle mammas wie se babas al van 6 weke af deur slaap, kry my nou maar jammer, en oordeel maar.
Pappa en baba het op die ou end in die king size bed wakker geword en ek saam met Ben in sy kamer.
Wanneer die dag aanbreek is dit asof alles van die vorige nag vergete is, hoe moet jy dan nou maak? Jy is superwoman en jy moet die huishouding aan die gang sit sodat jy weer breë bors jou dag kan begin.
Iemand fluister in my oor, die gedeelte wat ek in die baba boeke gemis het……Slaap is vir kabouters!
No comments:
Post a Comment