Wednesday, 13 June 2012

My man stuur nogal ewe vanoggend vir my hierdie mooi stukkie oor ouerskap. Ek deel dit graag op my blog.

IS DAAR EEN LAT VIR AL MY KINDERS?

Kinders het mos reeds in die baarmoeder hulle eie maniertjies. Meisiekind begin wikkel as die musiek hard is en Boeta rondomtalie as Ma hartseer is.

2012-06-12Anjenita Hugo


Omdat elke kind uniek is, spreek dit vanself dat ons nie ons kinders met ’n benadering van “een grootte pas almal” kan dissiplineer nie.

Kom ons gebruik rugby om hierdie beginsel te verduidelik. Jy as ouer is die afrigter en jou kind is die speler. Jy rig jou kinders af om die spel (van die lewe) te leer speel.

Ons begin by jou, die ouer. Watter tipe afrigter is jy? Dwing jy jou gesag ten alle koste af, of laat jy maar alles toe, of probeer jy om jou kind by die dissiplinêre proses te betrek? Is jy ferm, sag, spontaan of rigied? Een styl is soms beter in een situasie as ’n ander. Ouers kan mekaar aanvul na gelang van wat die situasie op daardie oomblik verlang.

Die spel self het ’n paar reëls. Jy kry geel kaarte en rooi kaarte. Jy mag nie gevaarlik duik nie en ook nie vorentoe aangee nie. Jy moet in ’n span saamspeel en ander in ag neem. So kan ons ooreenkom dat daar ’n paar basiese reëls is waaroor daar nie onderhandel kan word nie.

Maar elke speler het ’n unieke styl en sterk punte. Party is vurig en ander is vredemakers. Sommige is leiers en ander is ondersteuners. Party is sagter en ander word nie maklik afgeskrik deur ’n streng benadering nie. So het sommige kinders net “die kyk” nodig en ander ’n ferm versoek. Soms is meer verduideliking nodig en ander kere moet jy as ouer dadelik optree. So, as jou kinders se afrigter moet jy hulle leer ken en leer verstaan wat vir elkeen werk.

Hoe leer jy jou kind om die spel te speel? Daarvoor het jy ’n voorraad tegnieke nodig. Gebruik dit dan na gelang van jou en jou kind se styl. Partykeer werk iets vir twee weke en dan moet jy dit weer aanpas.

Liefde is natuurlik die fondament. Daarmee saam kom realistiese en opregte pryswoorde en beloning vir wat jou kind doen en hoe hy of sy optree. Maar dit beteken ook jy moet ferm wees, en jou stem, lyftaal, gesigsuitdrukking en woorde moet dit wys. Jou selfvertroue gee vir jou kind sekuriteit.

Jou optrede moet voorspelbaar wees: “Jy gaan ’n rooi kaart kry as jy aanhou!” En natuurlik ook konsekwent: “Vandag, môre en volgende jaar kan jy dieselfde reaksie van my verwag, Boeta!”

Jy moet ook duidelike grense stel: “Hoog vat is hoog vat en klaar!” En die gevolge uitspel as die grens oorskry word: “As jy kies om oor die lyn te trap, weet jy wat gaan volg.”

En soos altyd is daar keuses: “Noudat jy weet hoe die spel werk, het jy nog steeds ’n keuse hoe jy dit wil speel. Jy het ’n sê oor die uitkoms.”

Ouers kan gerus maar vir Boeta sê: Jy is anders as jou sussie. Daar is net een van jou en ek sal jou op jou eie, spesiale manier hanteer.

En laastens: Geen kleuter, kind of tiener is bestand teen die invloed van aandag, waardering en liefde nie.