Ek draai hierdie borde een vir een oop en wonder wat jy vandag so sê as jy kon sien dat ek jou eetstel vir 14 jaar in ‘n boks gestoor het vir ‘eendag’. Ek kom tot stilstand en besef vandag is ‘eendag’, ek glimlag en pak verder uit. Ek dink terug aan die geelhout tafel wat in die middel van ‘n beknopte kombuisie staan met 6 stoele rondom en ‘n paar ekstra kroeg stoeltjies onderin gedruk vir wanneer die kleinkinders kom kuier. Dit is dan ook so dat die kleinkinders sommer so drie tot agt op ‘n slag rondom die tafel gesit het. Ek ruik weer houtsaagsels vanuit oupa se werkswinkel en hoor ouma se skaterlag van voor die wasbak. Die klomp ogies om die tafel sit en wag vir roomys! Ouma grawe in die ‘deep-freeze’ opsoek na die roomys wat sy spesiaal vir die kleinkinders bêre, dit is onder die diabetiese soort weg gepak, sy skep vir ons op en gooi sjokolade sous bo-oor, van daai soort wat so hard word. Hierdie einste bakkies wat ek uit hierdie boks pak het eens op ‘n tyd ‘n kinderlike opgewondenheid in my wakker gemaak. Vandag kyk ek met ‘n traan in my oog en glimlag op my gesig na die stel en is dankbaar dat ‘eendag’ aangebreek het. Nou kan ek my eie kinder-gesiggies roomys uit hierdie bakkie voer.
No comments:
Post a Comment