Thursday, 22 September 2011

GeNoTVoLLe LeWE!!


Ek en Sarel is in 2005 getroud en in dieselfde jaar het ons ons heel eerste huisie gekoop. 'n Lieflike "lock-up and go". Ons is bevoorreg om nog eienaars van daardie einste huisie te wees. Ons was in die week by die huisie om vir potensiale huurders die huis te wys.

Ons besef toe weereens hoeveel ons lewe verander het. Daar stap 'n jong paartjie in, baie verlief en die verloofring blink nog. Wat vir hulle belangrik is, is die braai area en hoeveel vriende hulle daar kan onthaal en of al hul GOED gaan pas... As ons vandag na 'n huis moet gaan kyk, soek ons eerstens genoeg kamers vir al die kinders en dan genoeg speelplek vir die kinders.  

Ons ry daar weg, ek en Sarel kyk vir mekaar, ek sê vir hom "daai paartjie, dis ons!". Vir 'n oomblik het ons terug beweeg in tyd. Ons onthou hoe ons in 'n klein 2 slaapkamer huisie, met 'n braaikamer groter as die hoofslaapkamer, kon funktioneer, hoe ons saans by die huis kom en nie lus is vir kos maak nie, en op die ingewing van die oomblik besluit om te gaan uiteet en dan ook binne 15 minute in die kar spring en by die garage uit ry.  Die toiletpapier was altyd op die rol en toiletborsel nog agter die toilet, my spieelkas was nog vol botteltjies creampies en parfuumpies. Als was op sy plek en niks het onnodig rondgelê nie. Dit was net ons en ons GoEd.  

Vandag vat dit ons 2ure voor ons enigsins die huis kan verlaat en "uit eet" bestaan nie meer in ons woordeskat nie! Die toiletrol is meestal die hele badkamer of toilet vol agv 'n mannetjie wat genot daaruit put om dit te staan en afrol. (Dis eintlik goeie stimulering vir die kleingoed, sê die ‘free spirit’ moeder in my). Die toiletborsel word verwyder oordat die kabouters daarmee speel (dis hiper onhigihenies, sê die ‘over sensitive dad’ langs my). My spieelkas het geen meer botteltjies wat oopgemaak, gesmeer of uitgegooi kan word nie en om die waarheid te sê, NiKs is op sy plek nie en GoEd is nie meer vir ons belangrik nie. Al wat nou saak maak is die welstand van ons kinders.


Die lewe het soveel verander,

dit het GROTER geword,

 dit het voLLer geword.

 GeNotVoLLer!


Daai "honeymoon days" was lekker, maar dit was maar net die begin van die pret. Ons lewe is nou verryk met twee pragtige seuns, wat elke dag vir ons nuwe dinge leer. Aardse goed bly aardse goed, dit kan ook maar net daar lê, daar waar swaartekrag dit laat val. Liefde en tyd saam met mekaar beteken nou vir ons die wêreld.

No comments:

Post a Comment